Wat van die Toekoms?  

Dit is bloot menslik en ‘n natuurlike instink om bekommerd te wees oor die toekoms. Veral in die huidige tye waar daar ‘n dreigende wêreld resessie is, is daar baie wat bekommerd is dat hulle moontlik hulle werk en hulle huise kan verloor. Ander is weer besorg daaroor dat hulle nie genoeg gaan hê om te eet of dat hulle nie ‘n plek gaan hê waar hulle kan bly nie.

Dit maak nie saak hoe hard ons probeer nie, maar vrees, besorgdheid en twyfel maak gereeld aanval op elkeen van ons. Party is besorg omdat hulle bloot ‘n selfsugtige en materialistiese drang na weelde en gemak het. Maar vir baie is die bekommernis oor die realiteite van voedsel, kleding en behuising. Vir ander, wat onder verdrukking staan in ander lande of wat in geweldgeteisterde samelewings lewe, is die vrese selfs nog meer basies – vervolging, marteling, gevangenskap en selfs die dood. Ons weet almal dat Jesus gesê het dat ons nie oor môre besorg moet wees nie (Mat 6:25-34) maar tog kom dit voor asof ons onsself nie kan keer om ons oor die dag van môre te bekommer nie.

Diegene wat die sekuriteit van hulle klein materialistiese wêreld het, kyk dikwels neer op ander wat minder bevoorreg is as hulle en wat gevolglik diep besorg is oor die toekoms. Maar daar moet nie smalend neergesien word op die vrese van hulle wat ‘n onsekere toekoms het nie want daardie vrese en bekommernisse is baie werklik en kragtig en kan alles-verterend raak. Mense soek almal die een of ander vorm van bemoediging en ‘n blikkie van wat die toekoms kan inhou, daarom kan ek verstaan hoekom so baie hulle toevlug neem tot fortuin vertellers, die “sterre voorspel” of die een of ander medium met “insig” in die toekoms. Selfs Christene neem hulle toevlug tot christelike fortuin vertellers, mense wat hulleself as “profete” voorhou en wat daarop aanspraak maak dat hulle die toekoms kan voorspel.

Maar God het besluit dat Hy nie aan ons die toekoms gaan openbaar nie, behalwe in baie besondere en buitengewone gevalle. Hy doen dit vir drie baie belangrike redes: Eerstens wil Hy hê dat ons in die hede moet leef en dat ons elke dag moet benut vir die doel wat Hy daarvoor gegee het. Hy wil nie hê dat ons in die toekoms moet lewe nie. Die menige verwysings na “vandag” en “nou” in die Skrif bevestig dit (2 Kor 6:2; Heb 3:7,13 ,15 ens).

Die tweede is dat ons dikwels aan God ongehoorsaam sal wees as ons weet welke probleme, uitdagings en pyn ons nog sal moet verduur. Ek weet sommige dink dat dit ‘n baie pessimistiese uitkyk op sake is, maar het Hy nie gesê dat diegene wat ‘n heilige lewe lei, vervolging sal moet verduur nie (2 Tim 3:12)? En was beproewing nie die lot van die meeste godvresende mense van die Ou Testament nie (Heb 11:36-39)? Om die waarheid te sê, kan jy die naam van net een groot man van God noem wie se lewe op aarde idillies was?

As daar iets is omtrent die toekoms wat ons mag weet, is dit dat dinge waarskynlik moeilik sal wees. Ek weet dit bied nie veel troos aan die wat hulle tussen die duiwel en die diep blou see bevind nie, maar saam met hierdie waarheid kom ook die waarheid dat Hy ons nooit sal begewe of verlaat nie (Heb 13:5). Hy sal ons nie beproef met meer as dit wat ons in staat is om te verduur nie. Hy sal ons in staat stel om die beproewinge te verduur (1 Kor 10:13). En Hy laat alles ten goede meewerk vir hulle wat Hom vrees (Rom 8:28). Daar is nog baie Skrifgedeeltes met beloftes dat Hy ons deur al hierdie dinge sal bring en dat Hy die slegte tot ons voordeel kan draai (Gen 50:20).

Die derde rede hoekom God nie die toekoms aan ons bekend maak nie, is omdat Hy wil hê dat ons moet leer om Hom te vertrou sodat ons ons lewenspad aan Sy hand bewandel. As ons alles uitgewerk het, soos wat die wêreld tans glo hulle wel gedoen het, dan het ons geen behoefte aan God nie en word ons self-voldaan en arrogant. Ek hou kleuters dikwels dop terwyl hulle speel en lag. Wanneer alles goed gaan en maklik is, lyk dit asof die kind van die ouers vergeet en selfs weghardloop wanneer die ouer sy hande uitsteek. Die oomblik egter wat gevaar dreig, of as hulle seerkry, verander alles en hardloop die kinders na hulle ouers vir troos of skuiling. Skielik wil hulle net in die arms wees wat hulle oomblikke vantevore nog verwerp het.

Dit sal vir ons veel beter wees as ons nooit die Here se Hand los nie. So dikwels egter, in ons trots, dink ons dat ons goed oor die weg kan kom solank Hy net in die agtergrond is, of selfs sonder Hom. Daarom is die toekoms dikwels donker sodat ons naby Hom sal bly en elke tree in nederige afhanklikheid aan Hom sal stap. Dit is net wanneer ons naby Hom is, wat ons Sy stem kan hoor, die warmte van Sy omhelsing kan voel en kan steun op die Ewige Arms. Omdat Hy ons liefhet wil Hy graag naby aan ons wees maar ons is tog so onafhanklik en vergeet dikwels van Hom. Die enigste manier wat Hy oënskynlik in staat is om ons in Sy koesterende vertroeteling te hou, is om die toekoms vir ons verborge te hou.

Die toekoms is egter nie in sy geheel verborge nie. Daar is baie dinge omtrent die toekoms wat die Here reeds aan ons openbaar het. Ons verwerp egter dit wat Hy openbaar het omdat ons juis dit wil weet wat Hy gekies het om verborge te hou. Ons weet byvoorbeeld dat niks en niemand ons uit Sy hand kan ruk nie en dat ons absoluut veilig en beskut is in Hom (Joh 10:28). Ons weet ook dat niks ons van Sy liefde kan skei nie (Rom 8:39). Hy het aan ons ‘n hele boek gegee – Openbaring – om ons die versekering te gee dat die duiwel en die goddeloses nie sal standhou nie maar dat Hy, en die heiliges, op die einde as oorwinnaars uit die stryd sal tree.

Ons kan ook weet dat dit nie saak maak hoe moeilik dinge is, of sal wees nie, die probleme sal tot ‘n einde kom. “Waarlik, sy toorn duur net 'n oomblik, maar sy goedheid lewenslank. Gisteraand was daar nog trane en vanmôre lag ek al weer” (Ps 30:6). Paulus het geweet van hoe moeilik dinge kan wees en die toekoms was vir hom maar altyd onseker. Vir baie jare het hy in die skadu van teregstelling gelewe. Tog is hy die een wat ons verseker dat alles net vir ‘n oomblik is: “Want ons ligte verdrukking wat vir 'n oomblik is, bewerk vir ons 'n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid” (2 Kor 4:17 OAV).

DAAROM gee ons nie moed op nie, maar al vergaan ons uiterlike mens ook, nogtans word die innerlike mens dag ná dag vernuwe. Want ons ligte verdrukking wat vir 'n oomblik is, bewerk vir ons 'n alles oortreffende ewige gewig van heerlikheid; omdat ons nie let op die sigbare dinge nie, maar op die onsigbare; want die sigbare dinge is tydelik, maar die onsigbare ewig. WANT ons weet dat as ons aardse tentwoning afgebreek word, ons 'n gebou het van God, 'n huis nie met hande gemaak nie, ewig, in die hemele” (2 Kor 4:16-5:1).